Een van die groot probleme met Christen gelowiges
is dat hulle gans te maklik veroordeel.
Hoekom is ons so vinnig om dit te doen? Ons staan
maklik reg om ander te veroordeel wat nie soos ons dink,
doen of glo nie. Ons is maklik self aangestelde regters
wat die taak op ons skouers neem om ander te veroordeel
en vonnisse oor sondaars te vel.

Paulus skryf dat party Jode lief is hiervoor en dan het hulle
geraamtes in hulle eie kaste gehad. Hulle regverdig hulle
self omdat hulle dink hulle sonde is nie so groot soos die
van die heidene nie. Hulle het daarvan gehou om te hamer
op ander se egbreuk, afgodery, diefstal en ander sigbare
sondes. Hulle leef op die oog af so “vroom” dat hulle
gesigte soos die van suur pruime lyk. Van vreugde is min
te sien. Hulle doen egter dieselfde as die ander mense wat
hulle rondom hulle beskuldig.

Dit laat Paulus in Romeine 2:24 sê: “...as gevolg van júlle
optrede word die Naam van God deur die heiden nasies
belaster.” Hulle kyk dwarsdeur die sogenaamde vromes,
en wil dan nie húlle God dien nie...

Skeinheiligheid is wanneer jy vroom lyk en voorkom aan
jou buitekant, maar dit is anders aan die binnekant.
Dit is soos ‘n appel wat van sy kern af besig is om vrot
te word, maar die skil lyk nog blink gesond!
Jy maak al die regte godsdienstige klanke en bewegings,
maar jou hande en voete, waar jy gaan en wat jy doen,
jou lewe, vertel ‘n ander storie.

Ons moet baie versigtig wees om ander mense te veroordeel.
Dit is maklik om morele polisieman te speel. Dit is maklik om
self te besluit wat is wit en wat is swart in jou eie oë, en dan
dit normatief te maak vir ander om aan te voldoen.
Kyk eers na jouself. En meng jou woorde oor ander met
genade-salf wat genesing bring.

Ernest