Die uitdrukking van “die goeie ou dae” het al
legendaries geword! Die goeie ou dae is eintlik
net goed as ons self nie daar is nie. Die oomblik
wanneer ons dit betree, bederf ons dit. As ons vir
net een dag sou kon terugkeer na die “goeie ou dae”,
sou ons in elk geval twintig jaar of meer uit wees.
Wanneer was nou regtig die goeie ou dae? Dit is
maklik om die verlede te romantiseer. Ons is egter
vergeetagtig oor die probleme wat daar in
“die goeie ou dae” was! Ons oorskat eintlik ons
eie idee van hoe goed die verlede was.
Die prediker beklemtoon ook dat dit nie wys is om
te sê die ou dae is beter as vandag nie. Prediker 7:10:
“Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie;
dit is nie uit wysheid dat ‘n mens so sê nie.”
Hoekom sê die Prediker dit? Hy sê dit sodat ons nie
in die verlede moet leef nie, want die lewe waar God
jou wil gebruik gebeur hier en nou! Dit is goed om God
se sorg en sy reddingshandelinge, en sy trou in die
verlede te onthou. Dit bly lewensbelangrik. Maar ons
leef nie meer daar nie, en moet met daardie wete
van Wie God is, hier en nou die verskil maak!
Dit wat God gister tot ons redding gedoen het,
moet ons vandag uitleef! Ons kan nie terugkeer na
gister wanneer God vandag deur ons wil werk nie!
Gister is water onder deur die brug.
Wysheid is om die meeste uit vandag te haal,
en die meeste in vandag in te sit! Wysheid is om die
hede entoesiasties vir die Here te leef!
Ons is geroep om tekens van God se koninkryk
vandag sigbaar uit te leef!
Dit is wat die Prediker gesnap het uit die lewe.
Daarom roep hy ons ook op om die lewe aan te gryp,
en hier en nou te lewe!
Ernest