Bybelse vreugde?
Dit is moeilik om dit in woorde te beskryf.
Maar Bybelse gebeure vertel vir ons waarin
ons vreugde lê!
Hier is net ‘n paar om oor na te dink:
Vreugde is die vrede wat God gee, wat alle
verstand te bowe gaan. Fil. 4:7.
Vreugde is die wete dat niks jou van God se liefde
kan skei nie. Romeine 8:31-39.
Vreugde is om in geloof op water te loop. Vra maar
vir Petrus. Vertroue in die Here. Entoesiasme in Hom!
Vreugde is water wat in wyn verander by ‘n troue!
Om te sien hoe Jesus deel in ons feesvieringe!
Vreugde is om te sien hoe Jesus duisende voed met ‘n
klein seuntjie se ruimhartige bydrae van vyf brode en
twee vissies. God sorg.
Vreugde is engele op ‘n sterrenag rondom die heuwels
van Betlehem. Om te weet Jesus is gebore vir ons.
Vreugde is omtrent die grootte van ‘n mosterdsaadjie.
Dit groei en groei en word ‘n groot boom wat vreugde
aan baie gee. Vreugde in die geloof wat die Here gee!
Vreugde is kinders op Jesus se skoot. In alle vorms en
groottes, oud en jonk. God se kinders!
Vreugde is ‘n trop varke wat in die water stort...
om te sien en te weet dat Jesus die Bose verdryf.
Vreugde is ‘n maagdelike meisie, Maria, wat vir God sê...
laat met my gebeur volgens U woord. Oorgawe dat God
sy doel met my bereik.
Vreugde is ‘n baba wanneer jy 90 jaar oud is! Vra maar vir
Abraham en Sara oor God se getrouheid in sy beloftes!
Vreugde is ‘n stroom in die woestyn en ‘n pad in die
wildernis. Hoe God voorsien. Lees maar die profete.
Vreugde is God se wonderbaarlike en onuitblusbare
teenwoordigheid in my eenvoudige lewe.
Vreugde van die Here in mý lewe!
Vreugde wat nie in woorde omskryf kan word nie...!
Ernest